
The Right Start Ensures Strong Growth:
August 11, 2026Semi-Organiese bemesting druk arm met konvensionele bemesting op mielies!
Atlantic Fertilisers het die afgelope seisoen vir die tweede jaar in ’n ry mielieproewe in die Bultfontein-distrik gedoen, onder beide besproeiing en droëland toestande. Die resultate is uitstekend en het weereens gewys dat ’n gekomposteerde en verpilde misproduk, ’n betekenisvolle rol binne ’n mieliebemestingsprogram speel.
Twee praktyke is op die proef gestel:
Die konvensionele chemiese plantermengsel is vervang met ’n semi-organiese plantermengsel waarmee geplant is.
Die konvensionele chemiese plantermengsel, 4.2.1 (31), is gebruik, met die organiese verpilde miskomponent, Bio Ganic, wat addisioneel tot die bemesting toegedien is.
Op droëland is slegs die semi-organiese plantermengsels beproef. Al die proewe het dieselfde kopbemesting ontvang. Slegs die aanvangsbemesting het tussen die behandelings verskil.
Wat het die resultate gewys?
Een van die belangrikste waarnemings in die besproeiingsproewe was dat meer stikstof (N) in die band nie noodwendig tot ’n toename in opbrengs gelei het nie. Die verskynsel kan ook toegeskryf word aan die vermoë van semi-organiese bemesting om voedingstowwe teen uitloging te beskerm, tesame met die bevordering van ’n sterker en meer uitgebreide wortelstelsel. Die hoogste opbrengs is behaal waar die konvensionele 4.2.1 (31) chemiese plantermengsel gebruik is, met Bio Ganic addisioneel toegedien. Hoewel hierdie praktyk die bemestingskoste per hektaar verhoog het, het die verhoogde opbrengs die bykomende kostes gedek. Om die verhoogde koste te verhaal, moes slegs 534 kg/ha meer mielies gestroop word. Die werklike resultaat was egter ’n ekstra 761 kg/ha mielies!
Die waarde van ’n verpilde organiese komponent:
Die uitstrooi van ’n verpilde hoendermisproduk bied ’n praktiese manier om ’n organiese komponent deel van ’n mieliebemestingsprogram te maak. Die verpilde produk is makliker om te hanteer en eweredig toe te dien as losmaat mis, terwyl kleiner hoeveelhede per hektaar benodig word. Belangriker nog, die organiese komponent dra by tot die verbetering van die grond se vrugbaarheid en skep ’n gunstiger omgewing vir wortelontwikkeling en voedingstofopname. Die semi-organiese plantermengsels het uitstekende resultate onder beide besproeiing en droëland gelewer. Die besproeiingsproef het getoon dat die semi-organiese benadering, met minder NPK, steeds ’n hoër opbrengs as die konvensionele chemiese program kon lewer. Dieselfde tendens is ook in die droëlandproewe waargeneem.
Waarom werk die semi-organiese benadering?
Die resultate kan aan verskeie faktore toegeskryf word. Die organiese komponent in die semi-organiese bemesting verbeter die grondomgewing binne die band en bevat ’n reeks mikro-elemente, asook humien-en fulviensure. Die voedingselemente in die miskomponent is stadig vrystellend. Tesame met die fisiese eienskap van die verpilde produk se struktuur kan dit help om die voedingstowwe beter teen loginsverliese te beskerm. Dit beteken dat voedingstowwe oor ’n langer periode in die wortelsone beskikbaar kan bly vir plantopname. Daarbenewens kan die organiese komponent wortelontwikkeling stimuleer en verbeter. ’n Sterker en beter ontwikkelde wortelstelsel kan weer die plant se vermoë verbeter om beskikbare voedingstowwe en water op te neem.
Die Resultaat?
Meer effektiewe benutting van voedingstowwe met minder totale NPK in sekere programme, en die potensiaal vir hoër opbrengste. Die proewe wys dat ’n organiese komponent nie noodwendig ’n ingewikkelde of arbeidsintensiewe toevoeging tot ’n bemestingsprogram hoef te wees nie. Met ’n verpilde produk soos Bio Ganic kan ’n organiese komponent maklik en prakties by ’n bestaande mieliebemestingsprogram geïntegreer word.
Dieselfde geld vir semi-organiese produkte, die oorskakeling kan so eenvoudig wees as om die bestaande voorgeskrewe plantermengsel na ’n semi-organiese plantermengsel te verander. Aandag moet egter aan die planter gegee word om seker te maak dat die spesifieke toerusting geskik is vir effektiewe bandplasing van verpilde produkte.
Skakel ons gerus om die proefresultate in meer diepte te bespreek en uit te vind hoe ons ’n organiese komponent maklik deel kan maak van jou mieliebemestingsbenadering.
Skakel gerus vir Sarel Saunderson by 082 534 3630 vir meer inligting oor die finale resultate.

