Cultivation of Potatoes with BioKelp X5:
October 21, 2024
Cultivation of Potatoes with BioKelp X5:
October 21, 2024

Herlewingslandbou: Olyfboerdery lewer reeds groter oeste na 4 jaar:

Groot opgewondenheid heers op die Goedgedacht-olyfplaas oor die toenemende groter oeste wat met behulp van herlewingsboerderypraktyke gelewer word.

Die oes van 150 ton olywe vanjaar het vir groot opgewondenheid op Goedgedacht, ’n olyfboerdery tussen Malmesbury en Riebeek-Kasteel in die Swartland, gesorg. Dit is die tweede grootste oes van dié boerdery, terwyl sy hoogste gemiddelde opbrengs wat nog aangeteken is, 17% per blok is.

Die oes het 27 000 liter ekstra suiwer koudgeparste olie in vorige jare gelewer. Luidens ’n verklaring beslaan Goedgedacht 164,5 ha, waarop 36 ha olyfbome staan. Daar word hoofsaaklik geboer met die Frantoio- en Mission-kultivars vanweë dié kultivars se optimale olieproduksie. ’n Span van sowat 90 seisoenwerkers het in April binne een maand die olywe met handharkies en nette geoes.

Vier jaar van herlewingsboerdery

Pieter Brand, plaasbestuurder van Goedgedacht, het gesê vanjaar is die vierde jaar dat herlewingslandbou hier toegepas word en sedert hulle daarmee begin het, het die olyfboorde aansienlik verbeter.

“Ons bome vertoon beter en stres nie so maklik in die hitte nie, terwyl ons ook minder pesprobleme het. Ons olyfgehalte het verbeter en ons kry deurlopend ’n hoër opbrengs as toe ons konvensioneel geboer het.”

Goedgedacht se gemiddelde oes was voorheen 72 ton, terwyl vanjaar se 150 ton nader aan hul rekordoes van 185 ton in 2022 is. Die boerdery se olyfolievolume het van 25 000 liter olie in 2022 tot 27 000 liter vanjaar gestyg.

Volgens Brand wissel die oesopbrengste tussen die streke, maar sowat 10 ton olywe per hektaar is ’n goeie standaardgemiddelde.

Brand het gesê waar hulle in die verlede twee tot drie ton olywe per hektaar gepluk het, was hul oes vanjaar tussen vyf en sewe ton per hektaar. “Sommige produsente oes 12 tot 15 ton, dus is daar vir ons nog baie groeipotensiaal.”

Die gemiddelde opbrengs van 17% per blok is ’n goeie verbetering op hul vorige gemiddeld van 14% tot 15%. “Sommige blokke het tot 22% gelewer, dus mik ons vir 18% tot 25% in die toekoms.”

Goedgedacht plant nou nuwe olyfkultivars, soos Koroneiki en Arbequina, waarvan die bome kleiner is en die olywe ’n hoë olie-inhoud het. Volgens beplanning sal dié bome oor drie jaar begin om olywe te lewer. Brand het aan Landbou.com gesê hulle gaan vanjaar ook artisjokke plant tussen die jong boompies wat ’n oes kan lewer terwyl hulle wag dat die bome groei. Die artisjokke help ook om die grond te verbeter.

Goedgedacht se trotse olyfboordspan is van links Cobed Swartz, algemene
werker, Jonnothan Meloy, plaasvoorman, en Pieter Brand, plaasbestuurder. Foto: Verskaf

Watter praktyke volg hulle?

Brand verduidelik aan Landbou.com dat Goedgedacht stapsgewys herlewingsboerderypraktyke toepas omdat dit moeilik en baie duur is om eensklaps van ’n chemiese boerdery na organiese boerderypraktyke oor te slaan. Hy het gesê herlewingsboerdery is die pad na organiese boerdery, want dit gaan alles oor grondgesondheid. As gevolg van finansiële beperkings was dit ook die kostedoeltreffendste wyse vir Goedgedacht om van chemiese boerderypraktyke weg te beweeg.

Op Goedgedacht strewe hulle daarna om soveel as moontlik van die plantmateriaal soos strooi en houtstukkies van die bome wat gesnoei word, olyfpulp wat ’n jaar gelê het, asook karton in die olyfboorde te plaas.

“Dit beskerm die grond teen hitte, verhoog die grond se voghouvermoë en onderdruk die voorkoms van onkruid in die grond terwyl dit die grond voed soos wat dit afgebreek word. Natuurlik hou die humus (die afgebreekte plantmateriaal in die grond) water vas soos ’n spons, wat dan weer stadig vir die bome vrygestel word.”

Brand het gesê die baie tarentale wat natuurlik op die plaas voorkom, help vir bemesting en om insekte te beheer. Die tarentale los hul mis gratis oral tussen die olyfbome. “Noudat ons nie meer gif teen die peste spuit nie, sien ons ook baie meer liewenheersbesies en verskillende perdebyspesies wat op skadelike goggas teer.”

Dekgewasse word tussen die bome geplant vir kompos, terwyl die plaas se Dexter-beeste in die boorde wei en ook hul mis as gratis bemesting tussen die bome los, terwyl dit ook die grondorganismes voed. Goeie snoei- en besproeiingsprogramme is ook belangrik.

Volgens hom konsentreer hulle op die basiese dinge om die grond te help verbeter “en die natuur reageer vinnig as ’n mens dit selfs net ’n bietjie help”.

Goedgedacht benodig egter steeds kunsmis en hulle het met Atlantic Fertilisers vir sy reeks organiese kunsmis hande gevat.

Brand se raad aan ander boere is om met soveel as moontlik boere te gesels wat herlewingsboerdery toepas en om dan dié inligting na gelang van jou eie omstandighede toe te pas.

_____________________________________________________________________________

ARTIKEL EN FOTOS DEUR: Alani Janeke | Web: www.landbou.com | NAVRAE: Pieter Brand, Plaasbestuurder van Goedgedacht – Besoek https://www.goedgedacht.org/ | Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-Android– en Huawei-winkels.