Atlantic Fertilisers address the importance of post-harvest fertilisation:
March 1, 2021Swartland grain farmers strive for soil health
April 4, 2021Wind en min water kry nie organiese saadboere onder: Dit is moontlik om organiese groente- en kruiesaad met welslae in sandgrond, met beperkte water en baie en sterk wind, te produseer. Die Sandveld is feitlik sinoniem met aartappelproduksie op honderde spilpuntsirkels, maar kort duskant Lambertsbaai word ook groente en groente- en kruiesaad organies verbou. Arm sandgrond, ’n hoë voorkoms van sterk wind, mis van die see en die streng vereistes vir organiese produksie is nie juis die ideale omstandighede om ’n klein boerdery staan te maak nie.
Mnr. Theunis en me. Susi Engelbrecht van Sandveld Organics laat egter al vir meer as twintig jaar hul boerdery werk deur organiese beginsels nougeset toe te pas, te leer om by moeilike omstandighede aan te pas en vir verskillende inkomstestrome te sorg. Hulle kan nie meer onthou waar hulle ’n artikel oor organiese boerdery gelees het nie, maar toe hulle plaas toe gekom het, het hulle besluit dis hoe hulle wil boer. Susi, oorspronklik van Switserland, het heelwat kennis van organiese boerdery gehad, maar hulle het albei ’n kursus oor organiese boedery by Brian Pickering, ’n kundige op die gebied en voormalige eienaar van Organic Advisory Services, bygewoon. Theunis se pa het vir hulle net meer as 100 ha van Suurfontein, die familieplaas, afgesny. Vanweë beperkte boorgatwater kan hulle in enige jaar hoogstens 10 ha daarvan benut. “Ons water is nie so baie dat ons op alle grond kan plant nie,” sê Theunis. Hulle wisselboustelsel moet ook vir genoeg rusjare voorsiening maak om te keer dat die grond verbrak.
PLANTTYD KOS FYN BEPLAN
Die meeste van die grond op hul plaas is sand, met ’n klein stukkie naby die huis wat kleierig is. Dit beteken die Engelbrechts moet baie moeite doen met grondvrugbaarheid om genoeg voedingstowwe aan die plante beskikbaar te stel. “Ons moet elke ding presies op die regte tyd plant. Die wind maak dat ons baie van die groentesade nie in die somer kan plant nie,” sê Theunis. “As ons geelwortels te laat in die somer met die lugdrukmasjien plant, is die grond ná ’n dag of twee só kaal gewaai dat daar niks saad in die grond oor is nie.” Hulle het nou al geleer hulle kan geelwortelsaad nader aan die einde van die winter plant. “Ons kan dit ín die winter ook plant, maar dan duur dit langer om oesgereed te raak. Wat ons gewoonlik doen, is om aan die einde van winter te plant, vóór die wind te sterk raak. Dit gee die saadjies kans om op te kom, en teen die tyd dat die wind kom, is die plantjies al sterker.”
HARDE WERK OM GROND TE VERBETER
Die Engelbrechts voer omtrent ’n stryd om grondvrugbaarheid in stand te hou. Organies gesertifiseerde misstowwe is nie so maklik bekombaar nie, en die wind laat hulle nie juis toe om groenbemesting in die grond in te werk nie. Hulle gebruik gekomposteerde hoendermiskorrels van Atlantic Fertilisers omdat dit organies gesertifiseer is. Susi sê hulle kan ongelukkig nie sommer enige dieremis gebruik nie omdat die voer wat die diere gevreet het, meestal nie organies is nie of geneties gemodifiseerde mielies of sojabone bevat.
“Ons mag konvensionele hoendermis gebruik as die hoenders vrylopend is.”
Hulle probeer die grondvrugbaarheid aanvul met groenbemesting van weiwieke in die winter en akkerbone in die somer. “Dit help om die liggaam vir organiese sertifisering tevrede te stel. Hulle lê baie klem op hoe die grond verbeter word.” Theunis sê hulle laat staan die groen-bemesting. “Eintlik as die wieke en akkerbone in peulstadium is, moet dit groen ingewerk word. Dit is die regte manier, sodat die plante in die grond kan afbreek, maar hier by ons is die wind só erg, ons moet die groenbemesting laat staan om die grond bedek en vas te hou. Die plante bind darem ook stikstof in die grond, maar ons kry nie so baie plantmateriaal in die grond as ons dit droog inwerk nie.” Volgens Susi is dit ook ’n probleem dat hul grondtemperatuur te warm raak. “Ons organiese materiaal se koolstofinhoud breek vinniger af as wat ons dit kan inwerk.” Die bonus van die praktyk is dat hulle weer saad kan oes vir volgende keer se plant. Dis ook goed vir die “101 insekte en voëltjies wat daarin skuil”.
WISSELBOU EN OORLÊLANDE
Hulle pas wisselbou toe. Susi sê dis ’n baie ingewikkelde stelsel, “nie so pragtig soos dit in die skoolboeke lyk nie”, want daardie stelsels werk nie by hulle nie. Hulle het 13 plantblokke, maar werk gewoonlik net op twee. “Dit duur sowat ses tot agt jaar om weer by ’n land uit te kom nadat ons dit gebruik het.” Sy sê watergehalte is ook ’n faktor. “Omdat ons water nie heeltemal vars is nie, verbrak die grond gou. Ons hoop altyd dat dit in die ses tot agt jaar een of twee keer genoeg kom reën om die soute uit te was.” Maar wat gebeur op die grond waarop daar nie geplant word nie? “Daardie tyd laat lê ons net die grond. Ons sal dalk ’n peulgewas vir groenbemesting plant.” Hulle plant met ’n trekker en ’n planter, al sou Theunis daarvan hou om donkies vir dié werk te gebruik. Verder word alle ander werk, soos onkruidbestryding en die oes van die saad, met die hand gedoen.
SIEKTES EN PLAE MINDER
Hoe langer hulle met organiese boerdery besig is, hoe minder word die plae in vergelyking met waar hulle begin het. “Die siektes is minder en die insekte is nog daar, maar ons word al hoe minder deur hulle gepla. Dit het regtig baie beter geraak.” Soos baie ander boere, sukkel hulle met roes op die knoffelplantjies, sê Theunis. “Daar is niks wat hom keer nie, nie eens die chemiese middels vir konvensionele boere nie. Daar is net ’n middel wat jy kan spuit om die roes stadiger te laat vorder.” Aangesien die roes deur swamme veroorsaak word, is gebiede soos Loxton en Calvinia baie meer geskik vir knoffelverbouing. “Hoe droër jou aande, hoe beter vir knoffelgesondheid. Ons kry kort-kort toemis van die see af, dan begin die swam-siektes ook kom.” Susi sê die roesswamme oorleef op die onkruide, kiesieblaar en wilde-hawer. Dit verswak die knoffelplante in die groeistadium waarin dit veronderstel is om uit te sit en knolle te maak, sodanig dat dit nie meer energie het om klaar te maak nie. Die klein knolletjies wat dit tot gevolg het, is nie eens die moeite werd om in te lê nie. Dit vergroot die skade, want die organiese mark leer jou om die uitskotgroente te verwerk, sê sy. “Jy moet so veel moontlik afsetgebiede hê, dus maak ek piekels en konfyt.”
WERK SAAM MET DIE NATUUR
Een van die grootste lesse wat hulle die afgelope 20 jaar geleer het, is dat hulle vir die regte tyd moet wag om sekere sade te plant. “Ons kan nie teen die natuur probeer werk nie. As dit windseisoen is, help dit nie ons plant die fynsaadgoed nie. Ons moet hulle plant voor die wind begin waai,” sê Theunis. Al berokken wildsbokke en ystervarke hulle groot skade, het hulle besluit om daarmee saam te leef. “Jy kry mos mense wat voor die voet doodmaak, maar ons het besluit ons los hulle maar,” sê Theunis. Hy sê ’n natuurbewaarder het eenkeer vir hom gesê die grootste fout wat mense met ystervarke en rooikatte maak, is om hulle te skiet. “Hoe meer jy skiet, hoe vinniger teel hulle aan. Die dominante sog is die enigste een wat kleintjies kry, maar as jy haar doodmaak, word alle ander wyfies sôe wat kan teel.”
WEES GEDULDIG EN VERSPREI DIE RISIKO
Geduld is ook baie belangrik in organiese boerdery, sê Theunis. “Dit help nie jy raak haastig met ’n gewas nie; die groeityd is langer omdat jy nie kunsmis gee nie, en jou oeste is kleiner. “As jy die slag ’n misoes maak, moenie dadelik moed opgee nie. As jy dit graag wil doen, sal jy vasbyt en aangaan.” Hulle sal weet – hulle moes immers die moeilike water- en indsituasie, die molle en die proefnemings met planttye trotseer tot hulle by ’n mengsel gekom het wat werk. Daar is egter dinge wat hulle nie kan doen nie, soos om groenboontjies te verbou. “Ons water is te min en nie vars genoeg vir boontjies nie, maar beet groei uitstekend met ons water. Hoe brakker die grond en water is, hoe soeter is die beet.” Susi sê die belangrikste ding is om die risiko te versprei deur verskillende dinge te toets om uit te vind wat werk. Hulle kweek en verkoop uie en knoffel, maak piekels, konfyt en blatjang en verkoop groente- en kruiesaad. Omdat hulle so ver van hul mark is, is dit beter om produkte met ’n langer raklewe te produseer, sê Susi. “Klein volumes van hoëwaardeprodukte vaar beter as groot hoeveelhede. Ons werk in ’n ernstige nismark.” Hulle het ook ’n produktiewe samewerkings-verhouding met mnr. Jannie Nieuwoudt, organiese sitrus- en mangoboer van Jamaka by Clanwilliam, hul “naaste” organiese buurman. “Ons werk lekker saam. As dit nie vir die afstand was nie, sou ons rankplante by hom plant. Ons het al uiesaad daar gekweek.” By uiesaad moet die verskillende kultivars minstens ’n kilometer uitmekaar wees, anders baster hulle uit. Hulle kon dus een van die kultivars in die Sandveld plant en die ander op Jamaka. Hulle ruil ook organiese uitskotprodukte uit om verder te verwerk.
SAAD MOEILIK OM TE KRY
Hulle gebruik meestal saad wat hulle self kweek, want daar is net een ander maatskappy wat organiese saad verkoop. Die saad word met die hand gepluk en in materiaalsakke in die skaduwee en in ’n trek gehang om droog te word. Wanneer dit lekker droog is, druk hulle die sakke sodat die saad uit die peule val. Daarna gebruik Susi die wind en ’n stelsel van 30 verskillende siwwe om die saad uit te sif. Hulle maak dan die saad skoon en bêre dit. Hulle verpak die saad meestal soos bestellings inkom deur hul aanlyn winkel of van die groot aantal winkels wat hul saad verkoop. Die saad wat hulle nie in Suid-Afrika in die hande kan kry nie, bestel hulle van ’n maatskappy in Switserland, hoewel hulle dit lanklaas gedoen het. Dit is nogal ’n proses om die saad ingevoer te kry. Hulle het een jaar saad van Switserland af saamgebring, met alle nodige dokumentasie, maar op die lughawe is alles deur onbekwame amptenare afgevat. Hulle het darem weer die saad teruggekry.
VERBRUIKERS RAAK GEWOOND DAARAAN
Soos die meeste nisprodukte, is afsetgebiede nogal ’n kwessie. Hulle het eers groente aan Woolworths gelewer, maar die winkelgroep wou elke dag produkte hê en die Engelbrechts is net te ver van die Kaap af. Hulle het toe kleiner organiese winkels en groenteboksskemas gekry aan wie hulle kan lewer. Nou stuur hulle een keer per week dit wat beskikbaar is, Kaap toe met Cederberg Transport. Susi sê sy meen mense verstaan nou beter dat alle groente nie elke dag van die jaar beskikbaar kan wees nie. Mense is ook meer ontvanklik vir groente met kolle en merke, en die wurm in die slaai bevestig dat dit organies is. Sy vind in elk geval dat mense wat organiese groente koop, hul huiswerk baie goed gedoen het. “Dis nogal iets wat Woolworths eers nie kon verstaan nie. Hulle het ook al baie verander oor die voorkoms van groente. “Hulle wou byvoorbeeld amper hê dat alle geelwortels ewe lank en ewe dik moes wees. Dis onmoontlik, veral met organiese oeste wat klaar nie so groot is nie.
ARTIKEL EN FOTOS DEUR: AMELIA GENIS agenis@landbou.com | Web: https://www.netwerk24.com/landbou/ | Landbouweekblad: Uitgawe: 04 Februarie 2021 | NAVRAE: Me. Susi Engelbrecht, susi@sandveldorganics.co.za | www.sandveldorganics.co.za